|
Geagte Vriend,
IETS OOR TYD
“Ek het nie tyd nie!” Die
slagspreuk van ons tyd. Maar die probleem lê nie
by tyd as sodanig nie. Tyd is ‘n geskenk van God. Die fout lê by
ons wat toelaat dat onbenullighede ons dae opvreet; ons tyd stukkie vir
stukkie van ons steel. Ons het slawe van tyd geword. Ons kán kies om weer
meesters van ons tyd te wees. Ons kan
self die inhoud van ons dagprogram bepaal. Maar ons sal eers moet uitmaak
wat regtig vir ons die belangrikste waardes in die lewe is. Daarmee kan God se Woord
ons help. Alles wat met liefde te doen het kom boaan die lys.
Michel Quoist
Efesiërs 5: 16 leer: Maak die beste
gebruik van elke geleentheid want ons lewe in ‘n goddelose tyd!
RUGBY-ONTBYT
Wie onthou nog vir oom Piet Robberts?
Een van ons oud-skeidsregters. Wessie probeer
oom Piet kry vir die Rugbyontbyt van 30 Julie.
Die geleentheid beloof weer om ‘n reuse sukses te wees. Riaan sê
die vleis vir die ontbyt is reeds bespreek. Die res gaan vanselfsprekend
ook reg wees. Ons speel teen die All Blacks daardie oggend. Ons moet nou
net vir ‘n slag wen! Die ontbyt is vanaf 08h00. Volgens die program
is die afskop 09h35. Dit gee genoeg tyd vir kuier en eet en luister na
oom Piet se stories oor sy skeidsregtersdae.
Daar gaan hierdie jaar baie items te koop wees as mammie tuis moes bly.
Gebak, handgemaakte komberse ens. ens. Vrouens is natuurlik welkom om saam te
kom. Teen R100 per persoon bly so
geleentheid ‘n bargain.
VOLGENDE GROEIGROEP TERMYN
Die volgende groeigroep
seisoen begin in die lente. Doen jouself ‘n guns en skakel by
‘n groep van jou keuse in. Dit bly eenvoudig ‘n
lewensveranderende belewenis. Ons
begin met die toerusting van die groepfasiliteerders
die eerste Dinsdag na die skole heropen het vir die derde kwartaal. Moet
net nie sê: Ek het nie tyd nie!
LENTEDANS IN DIE PALMSAAL
Anneline beplan ‘n heerlike
Lentedans in die Palmsaal, met piekniek-mandjie
en alles wat daarby hoort! Hou die afkondigings dop vir meer
besonderhede! Ons hoop ons kan
die Palmsaal vol pak by so ‘n
geleentheid. Ons is nou op die punt om plafonne in die Palmsaal in te sit. Die res van die werk word gedoen
soos wat daar geld is. Hoe gouer ons die plek kan
voltooi hoe gouer kan
die PALSMSAAL vir die gemeente begin inkomste verdien.
|